Antie Koekie

Archive for Augustus 25th, 2008

Nee, vanaand het ek geen wyse woorde of grappige storietjies of ander sêgoed a la Antie Koekie.

Vanaand is dit maar net ekke wat wil sê: Hallo, hoe gaan dit nog?

Aan dié kant is ek vrek moeg, dankie, maar ‘n baie lekker vrek moeg, as daar so iets bestaan!

Vandat ek drie weke gelede begin het om elke Vrydag, Saterdag en Sondag in die Tygervalley Mall, olywe te verkoop, vat ek net so hier en daar grond. Dit kom van Laharna, ‘n plaas in die Klein Karoo en is die lekkerste olywe wat ek nog ooit ge-eet het.

Maar julle kan my glo, Maandae is ek pê! Dan wil ek niks doen nie; ek wil net re-charge, want ek het net dan net vier dae om als te doen wat ‘n mens in ‘n huis moet doen, voordat dit weer laat-aand se dinge is.

Maar ek geniet dit ontsettend baie. Dit is in een van die Wes-Kaap se besigste malls en dis so interessant om al die duisende mense dop te hou wat verby my tafels loop.

Ek kry twee tafels voor PnP en as al 19 die produkte eers uitgepak is, is daar nie kans vir ‘n ete-, toilet- of rondloopbreuk nie——– nee, dan is dit van 09h00 tot 19h00 agter die tafel staan.

Gelukkig het ek ‘n fantaastiese produk, waaroor ek baie passievol voel, dus het ek nie ‘n serious sales pitch nodig nie. Soos ek vir die mense sê: ek hoef niks te sê nie; sit net my olyf in jou mond en hy sal sy eie praatwerk doen!

Julle sal nie glo hoeveel jy van ander mense kan leer, net deur hulle dop te hou as hulle verbyloop.

Ma’s wat nie van olywe hou nie, sal vir ‘n nuuskierige kind sê: :Nee, dis sleg, jy sal nie daarvan hou nie.”

Hoe de duiwel kan sy namens haar kind besluit waarvan hy/sy miskien gaan/sal/kan hou of nie?!

Baie mans sal proe, in ekstase raak daaroor en dan sê: “Ek moet net eers gou my vrou gaan soek, sy het die beursie.”

En as hulle dan uiteindelik weer by my uitkom, sal sy so ‘n afwesige knorrige uitdrukking hê, terwyl sy sê dat hy weet sy eet nie die goed nie en hy moet maar vir hom koop, as hy wil! Dan word al die olywe op my tafel sommer suur, nes haar uitdrukking!

Party vroue sal proe en dan so half verskonend sê dat sy mal is oor olywe, maar haar ou man sit nie sy mond daaraan nie, so sy sal maat liewer nie koop nie.

Dan voel ek lus en skud die vrou dat haar oorbelle klap! As haar ou man sy bottel Klippies wil koop, dink hy nie daaraan of sy daarvan hou of nie. As sy daarvan hou kan sy mos ‘n pakkie koop en bêre vir alleen-tyd?

Maar weet julle wat maak dit als die moeite werd?

Elke keer as ‘n hastige persoon gou by my tafel stop om vinnig te proe en hy sit daai volronde, sappige vlesige olyf in sy mond en skielik lyk sy gesig of die son pas agter die donker wolke uitgekom het!

En al is dit ‘n man in ‘n Armani-pak; hy sal nog een vat, sy oë toemaak van lekkerte en dan sy vingers aflek soos ‘n klein seuntjie!

Dít, my vriende, máák my dag!!


Kalender

Augustus 2008
M D W T V S S
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Kuiergaste

  • 37 835 gaste

Top Clicks

  • Geen
"I find that the harder I work, the more luck I seem to have." - Thomas Jefferson (1743-1826)