Antie Koekie

Archive for Augustus 3rd, 2008

In sy ‘Latynse Reise” skryf Andrè P Brink van “Die Dag van die Pampoen’; van hierdie man wat gaan om die eerste pampoen van die seisoen te koop. Maar dis nie sommer net ‘n gewone wit boerpampoen wat ‘n mens met gemak kan omarm nie————— nee, hierdie is ‘n reuse pampoen., wat geleidelik stuk vir diep oranje stuk uitgedeel, gaargemaak en geniet gaan word.
En die dag wanneer hy stap om sy pampoen te koop, word ‘n hele feesviering op sy eie. Hy dra hom op sy skouer deur die straat en sover as hy loop, word die mense aangeraak deur die gebeurtenis. Hulle wys vrolik na hom, party volg hom en almal word op ‘n manier deel van “Die Dag van die Pampoen.”

‘n Wasdag in die Kaap is nie maar net nog ‘n dag om jou vuil onderklere en kouse skoon te kry nie; o, nee!
‘n Wasdag in die Kaap,in die winter word ‘n viering van die lewe.
As jy self nóú betrokke is by die was en droogkry van jou huismense se klere, knoop jy ‘n liefde/haat verhouding aan met die weerman. As die arme man met sy hand so wys na die 60% oor Tafelberg, haat jy hom meer as die meisie wat in St. 6 jou eerste kêrel afgevry het! Maar as hy sê daar’s geen reën vir more, sit jy sy naam bo-aan jou Valentynslysie.
Dan maak jy dadelik al wat ‘n vuil lap is bymekaar. More oggend begin jy vroeg, want hierdie dag moet voluit geleef word.
Jy werk vir jouself die perfekte siklus uit. Eerste vrag: onderklere, kouse en dun sy-goedjies. (Noodsaaklike goedjies wat eerste moet droog kom.) Tweede vrag: handdoeke (in ons huis is daar elke wasdag genoeg hiervan!). Derde vrag: Wit goed ( linne, katoen, sintetiese stowwe) en so gaan ons aan. Teen die tyd dat die handdoeke se siklus klaar is, is die fyn goedjies droog. Handdoeke moet lank hang in hierdie effense sonnetjie, dus gee ek dit genoeg tyd.
Maar waar kom die viering van die lewe in?
Dít ervaar jy wanneer jy buite staan, onder die wasgoedlyn.
Bo jou is die Kaapse hemelruim blou en helder. Die sonnetjie skyn vriendelik, asof hy ook bly is om te kan skyn.
Elke uur of wat dreun ‘n vliegtuig oor wat nou sy draai maak om te land. Op ‘n goeie dag draai hulle so laag dat jy die amper die name kan lees.
Die katte wat in die eendeweer op mistroostige hopies gelê en slaap het, jaag mekaar nou baldadig om jou voete of lê ewe nonchalant bo-op die pre-con muur en terg die bure se keffertjies.
En as die windjie so speels aan die wasgoed pluk en die Sta-Soft Lavender klap jou so deur die neus, dan word jy opnuut sooo verskriklik dankbaar om hier, in die buitewyke van Kaapstad te mag woon.
Dan is jy juigend bly oor die son en die wind en die mooi dag en jou wonderlike geseënde lewe.
Dan vra jy sommer groot askies omdat jy gister so gemor het oor die ellendige, aanhoudende, morbiede reën in die winter.
En jy sê sommer ekstra dankie vir die voorreg om klere te hê om te kan was, en ‘n dierbare, wit, outomatiese was-ousie; wat tevrede net vat wat ek inprop en dit als vir my silwerskoon en klaar gespin, anderkant uitskop.

En dan vra jy die liewe Vader om asseblief in genade te dink aan hulle wat daar in vlutelingkampe moet sukkel, sonder dit, wat jy as vanselfsprekend aanvaar.

Op so dag, is die lewe ‘n kraakskoon wit laken, wat die reuk van die son in hom het as jy dit wegpak.


Kalender

Augustus 2008
M D W T V S S
 123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Kuiergaste

  • 37 835 gaste

Top Clicks

  • Geen
"I find that the harder I work, the more luck I seem to have." - Thomas Jefferson (1743-1826)