Antie Koekie

Archive for the ‘My Gorrelgat’ Category

Kyk, ons almal dra mos maar maskers. Jy staan in die oggend op, drink jou koffie en dan staan jy voor die spieël en sê: “Give us this day our daily mask.”

En die enigste tye wat daardie masker afhaal, is as jy vinnig toilet toe gaan—– agter daardie toe deur, in daardie kleinste van klein vertrekkies, kan jy bietjie ontspan, en asem skep en jou bra-streppe stywer trek vir die volgende skof.

Toe ek amper drie jaar gelede als opgepak en Kaap toe getrek het, was my masker van entoesiasme stewig opgeplak. My kind was siek, dus wou ons trek om haar by te staan. En na haar skielike dood, was daar nie meer omdraai kans, als was gereed vir die Groot Trek.

Ek WOU trek. Ek WOU wegkom van ‘n plek en ‘n lewe waar almal als van my geweet het. Ek wou gaan óór begin, op ‘n skoon bladsy, met geen vooroordeel teen my nie.

Ek het my pose nogal wraggies goed gehou. Ek het nie eens daar, in die privaatheid van die toilet, erken dat ek vrek eensaam is en verlang na my mense in die Goudveld.

Tot Donderdag, 18Desember. Een oproep van Frederick. En my hele kaartehuis wat ek so versigtig en met groot sorg gebou het, foeter inmekaar met ‘n dawerende gejuig!

Wie de ongeluk is Frederick?

Onthou julle ek het mos geskryf oor die groenboontjiebredie manne en die sexy chilli-chocolate skurke en dan, Die Steaks! Daai manne wat so 100% REG is……………ek het vertel van Mnr. M en toe afgesluit hiermee:

“En die ander een, Frederick? Die ewige Cowboy, wat op sy gelukkigste is wanneer hy die lang pad aanpak op sy Kawa; die een wat ek in die Vrystaat agter gelos het; die één wat na drie jaar weg van hom, en alleen, nog steeds my hart in die holte van sy growwe manshande hou…………………..

Nee, nie nou al nie. Miskien eendag, vêr in die toekoms, sal ek vir julle van hom kan vertel.”

Wel, dis nou die tyd. En dié gaan weer ‘n laaang relaas wees, so maak maar liewers eers koffie, OK?

Frederick is die prototipe van Indiana Jones. En daarby is Harrison Ford ook nogal ‘n meer ge-polishde  afdruk van hom. Ons het ontmoet pas na sy egskeiding en dit was wonderlik verby!

Tot ons op ‘n dag besef het dat ons verskillende idees het oor hoe vinnig dinge moet ontwikkel. Seker maar my skuld—- ek het GEWEET dis wat ek wil hê en het toe soos ‘n bull in a china shop ingestorm, met rampspoedige en hartseer gevolge!

Hier in die Kaap, kon ek net nog nooit iemand ontmoet wat dieselfde uitwerking op my het nie en dus is ek nog altyd alleen.

En toe bel hy. En hy sê hy en ‘n pal op is pad Kaap toe; van Bloemfontein af tot bo by die weskus, en dan kuier-kuier tot in Kaapstad. Het ek slaapplek, en so aan?

Whoa! Meisies! Besef julle hoe’t dié Antie Koekie gevoel? YOU’VE GOT NO IDEA!!!

En ek begin spaarkamer skoonmaak en als regkry. Die volgende dag bel hy weer, met die mees ongelooflike, fantastiese orgasmosoriese plan ooit!

As hulle so 200 km van Kaapstad is, gaan hy deurkom en my kom haal, dan kuier ons darem so bietjie saam langs die see!

O, vrek! En toe gaan my verbeelding mos in overdrive; ek onthou hoe goed ons samesyn altyd was.

En ek droom van ‘n tentjie op die strand en sonsondergang op die weskus strand en ‘n lekker sjerrie langs die braaivleis vuur en lekker snoesig lepellê.

En vroeg moreoggend, saam wakker word en met die eerste beker koffie langs die strand gaan loop en sommer net gesels.

Wat is daai fensie woord wat die romanskrywers altyd gebruik: Idillies!

En hierdie hiperaktiewe verbeelding van my, hol toe sommer heeltemal weg met my!

Ek “hoor” al hoe hy een aand, terwyl ons so langs die vlak brandertjies loop, vir my sê dat hy besef dis nou lank genoeg gewag; hy besef ek is die enigste een vir hom en al daai tienduisend romantiese goedjies wat mens so graag wil hoor. Ek “hoor” hom sê dat ek moet terugkom Vrystaat toe, sodat ons kan trou en gelukkig saam kan oud word!

Nou kyk, ek het gesweer ek sal nooit weggaan van Tafelberg nie——— en baie beslis nie Vrystaat toe nie!!

Dit was dus vir my ‘n baie skielike “awakening” om te besef dat ek dit vir hom sou doen!

En toe begin Antie koekie bietjie besin.

En ek besef dat hierdie romantiese ewige liefde scenario nét in my kop is. Vir hom is dit ‘n kans om ‘n goeie Kersfees saam met ‘n ou, geliefde vriendin deur te bring. Niks minder en niks meer nie.

Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “A man’s love from a man’s life, is a thing apart. But it’s a woman’s whole excistense!”

Ek sou, getrou aan my aard en getrou aan my liefde vir hom, myself 200% gegee het. Ek sou elke oomblik intens beleef het en diep, diep in my binnekamer gebêre het.

Maar op ‘n dag sou hy die tentjie oprol en sy tas in die bakkie sit en dan met ‘n laaste soen en ‘n drukkie en “Baie dankie, dit was wonderlik!”, die pad vat, terug Vrystaat toe.

En dan sou ek presies gewees het waar ek drie jaar tevore gewees het. Dan was my selfopgelegde alleen- en selibate pad ‘n vermorste opoffering——- dit sou beteken dat als weer van vooraf begin!

En ek, die dappere een wat altyd impulsief reg is vir die volgende avontuur, ek het die telefoon opgetel en die moeilikste ding in my hele lewe gedoen.

Ek het als gekanselleer.

En nou is ek so weerloos. Gister het ek my vriendin, Chrystelle,  in Welkom gebel en vir die eerste keer erken hoeveel ek hulle mis; ek mis tot die mense wat altyd als van my geweet het en altyd kommentaar gelewer het!

Maar nou dat dit gedoen is, kan ek net sê dat ek so ontsettend trots voel op myself omdat ek dit kon regkry!

Miskien word ek nou groot?

(Not a chance!! Die gode behoede my daarvan!!!)

 

Ja, toemaar! ek weet dis nie reg gespel, maar dis hoe ek dit onthou, OK? Erens in my tienerjare, in al die Elmar Steyn boeke wat ek gelees het, het ek op dié gesegde afgekom.

 

Maar wat ek eintlik probeer sê is dat jou mond  nie net daar is vir eet (of partykeer soen, as jy gelukkig is!). Jou mond is eerstens daar om te praat; te kommunikeer; te troos, te vermaan, op te bou, aan te moedig en brûe te bou.

Ons huisgesin het die afgelope tyd  weereens besef hoeveel misverstande kan opduik, net omdat ‘n mens partykeer te ordentlik is om oor goed te praat.

Verkeerde aannames word gemaak en dan sneeubal ‘n klein onsekerheid wat in die lug hang tot ‘n onstuitbare sneeustorting wat baie skade veroorsaak.

Ons het 2 kuiergaste gehad. Die een, ‘n meisiekind wat ‘n pragtige getuigskrif vir haar ma is en die ander een, ‘n jong man wat my meer kere per dag  aan moord laat dink as my Eks Nr. 2!

Terwyl sy stilweg haar kant bring en ‘n voorbeeld stel van hoe ‘n kamer moet lyk as mens in die oggend werk toe gaan, ignoreer hy elke huis- en ordentlikheidsreël in die boek. Ten spyte van leë hangkaste tot sy bekikking, lê sy klere (vuil en skoon) permanent op ‘n hopie op die grond. Hy eet en drink en geniet alle geriewe, sonder om iets meer by te dra as wat hy vir sy tydelike huur moet betaal. En dan praat ek nie van sy ingebore vrees vir stort nie!!

Omdat hy nie my gas is nie, kan ek nie werklik ontplof nie (maar die Liewe Vader weet dis nader as demmit aan ‘n vloekwoord!!). Hoekom ek nog nie met hom gepraat het? Dis die grap – ek het! Mooi en vriendelik, soos net Antie Koekie kan! As ek vra: Would you please…….? Or do you mind to…..?, dan kry ek ‘n baie opregte “Sure, no problem!” met so ‘n stokstywe middelvinger agter sy rug.

Die liewe meisiekind het toe gedink dat ons die onregverdige situasie goedkeur. Ons, aan die anderkant, wou nie met haar praat oor ons ontevredenheid, want ons het geweet dat hulle al jare vriende is.

Dis eers op pad lughawe toe, na sy met ‘n lang storie besluit het om maar eerder terug te gaan huistoe, dat ons vroumense agter die kap van die byl gekom het.

Ons het saamgestem: As almal maar liewer onmiddellik gepraat het, voordat die situasie hand uit geruk het?

Ek vra vandag vir ‘n familielid om vir my iets aan te gee. Ek kry so ‘n verbale dwarsklap dat ek my in ‘n ander bloedgroep in vererg! Ek voel letterlik hoe die are bo-op my kop klop. Maar die situasie is tans so dat ‘n assertive teregwysing van my, net die lont sou wees wat die bom van opgekropte irritasies en spanning laat ontplof het.

 

Het julle “Anger Management” gekyk? Elke keer as my moermeter so in die rooi stoot,  sukkel ek nog om “I am pretty, o, so pretty!” te sing!

 

Mensies, práát as jy ‘n klippie in die skoen het! Moenie wag tot hy jou ‘n blaas geskaaf het nie!

En as die stuasie so is dat jy nie kán praat nie, kom dan op ‘n plek in jou kop waar dit koel en donker is en geen verbale diaree in die wereld jou kan ontstel nie.

As ek more ‘n lotto kaartjie optel en dis die wenner, kan ek nie my geld begin uitdeel nie, want ek kan dit nie opeis nie, want ek kan nie met ‘n boekie of  bestuurderslisensie bewys wie ek is nie——– m.a.w………….ek is identiteitsloos!

Die rede daarvoor? Een of ander simpel idioot het Vrydagaand gedink my ou 1980 Mazda 323, wat letterlik op ELKE hoek gestamp is en wat lyk soos ‘n ou tannie wat al goed grondpad gery het, die moeite werd is om te steel!

Danksy die Here se genade, kon hy dit toe nie regkry nie. Nadat hy tevergeefs AL die drade uitgepluk en afgeknip het, het hy toe maar my beautiful radio/CD player gesteel wat my skoonseun vir my ingesit het en ook my (leë) beursie, wat onder die sitplek was.

Ek werk nou elke Vrydag, Saterdag en Sondag by Tygervalley Mall, ‘n groot kompleks so 10 km van my huis af.

My seun moes toe uitkom om die kar te hot-wire, net sodat ek by die huis en weer die volgende dag by die werk kon kom. Sondag het hy toe al die bedrading uitgesorteer en reggemaak.

Baie dankie, Jacoos!Ek weet nie wat ek sou doen sonder jou hulp. Ek’s lief vir jou!

Maar kan julle jul indink hoe dit voel om 20H00 in die aand, sonder ligte, net op hazards, deur die besige naweek-jollersverkeer, huis toe te ry???

DIT WAS ERGER AS ERG!!

Maar voordat almal die skelm begin verwens——- ek het besluit dat ek nie gaan toelaat dat hierdie negatiewe ervaring my positiewe energie gaan steel nie. Die Blinde Sambok sal hom wel piets, op die regte oomblik.

Die blinde pastoor, Willie Botha, sê altyd:

Moenie tel wat jy verloor het nie, tel liewer hoeveel jy nog oor het!

 

Maar ek is tog hartseer oor my beursie wat weg is. ‘n Pragtige bloedrooi olifantsleer beursie wat ek 1987 in Durban gekoop het. Asook my ID boekie, met die foto wat geneem is toe ek die gelukkigste mens op aarde gewees het——-net nadat ek in Desember 2000 Mev. Pretorius geword het. My geluk was sigbaar op my ID foto! En nou is daardie foto weg!

Maar ek kan ‘n ander rooi beursie kry en ook ‘n ander ID boekie en weer ‘n CD speler.

Die belangrikste is………..ek het nog my ou jaloppie!!

Ek dink ek moet net gou iets hier regstel – ek is nie homesick nie; ek verlang nie terug na Odendaalsrus, Welkom of die Vrystaat nie.
Dis my geboortegrond. Op Hennenman is ek gebore; skoolgegaan op Virginia (Hentie Cilliers Hoërskool, die beste in die wêreld!); gewerk, getrou, gebly en geskei, in die res van die Goudveld; Welkom, Odendaalsrus en Riebeeckstad.
Maar terugverlang daarheen? Nee, glad nie.
Dis daar waar ek die meeste van die dinge wat my lewensverhaal so interessant maak, gedoen en beleef het.
Dis daar waar elkeen wat my ken, presies kan onthou hoeveel keer ek getroud was en al my ander skandes en skades.(Miskien dink hulle nie eens daaraan nie, maar as ek hulle sien, wéét ek, húlle weet. En dit is vir my erg genoeg!)
Dis daar waar ek al die pyn in my lewe ervaar het; waar ek deur die smeltkroes van die lewe moes gaan, om die mens te wees wat ek vandag is.
Daarvoor is ek dankbaar. Maar ek wil nie elke dag, as ek by die venster uitkyk of as ek ry om brood te gaan koop, weer en weer, elke keer opnuut in detail, daaraan herinner word nie.
O, ja, daar is beslis baie goed wat ek verskriklik baie mis.
Ek mis Ben en Tersia, net ‘n blok van my af, waar ek na tjailatyd in die middag kon instap en Benjamin agter die braaier kry en ons oor ‘n glasie whisky die wêreld se probleme kon oplos.
Ek mis Selinah, my Sotho vriendin, wat so getrou elke week orde in my chaos kom skep het.
Ek mis Alfred, die ou man met die groen vingers, wat met soveel vreugde gloeilampies vervang, blomme uitgeplant, stukkende slotte ge-olie, gespit, gehark en gesels het.
Ek mis Chrystelle, en die span by NetNews, wat elke keer as ek by die koerant ingeloer het, reg was vir ‘n geselsie, en wat opreg belang gestel het in my lewe.
Ek mis Katy en Theuns, van die Speedfreaks, en al my biker pelle. Die mense tussen wie ek so 100% normaal en aanvaarbaar kon voel.

Miskien is dit skuif van ‘n klein myners dorpie, war almal mekaar ken, na ‘n groot stad, ‘n metropolis, waar die lewe teen so ‘n tempo verby snel dat daar nie tyd is om plek te maak vir ‘n nuweling nie?

Miskien lê die fout by my?
Miskien het my dogter se dood en ons trek, direk daarna, ‘n veel groter impak op ons lewens gehad as wat ek besef?
Ek het verander; van die sorgvrye vissie wat in ‘n bekende klein poeletjie geswem het, tot ‘n ouer, wyser en veel hartseerder vis wat nou in die oseaan verdwyn. Al het almal geweet van “Wat Alta nou weer aangevang het!”, was ek tog “iemand”.
Hier in die Kaap is ek maar net nóg ‘n geskeide middeljarige vrou, soos ‘n paar duisend ander rondom my.
November 2005 was my lewe nog ‘n fees. Met ‘n relatiewe gesonde finansiële posisie;‘n goeie sosiale lewe; ‘n fantastiese intieme vriendekring; met al drie my kinders net ‘n oproep vêr.
Julie 2008 bestaan my sosiale lewe uit blogging en film ekstra werk, een goeie vriendin binne koffiedrink afstand, my finansies ‘n weerspieëling van die land se ekonomie en geen blondekop nagmerrie wat my drie uur in die more wakker bel om te sê sy’s lief vir my.

Teruggaan? Nee, nooit!!!

My hele lewe lank het ek begeer om naby die see te mag woon – nou het ek Bloubergstrand, 34 km van my huis af.

My lewe is nou hier, in die skadu van Tafelberg. Die lewe het my hierheen gebring, na die plek waar ons geskiedenis begin het, om, weg van als wat bekend is, myself te ontdek. Ek het nou alles wat ek nodig het, om te word nét wat ek graag wil wees.

As ek nou net self al my emotional baggage in die see kan gooi, kan ek dalk nog op my oudag ‘n roaring success wees.

Watch this space!!

Groot askies vir gister se gekerm?
Het agtergekom wat die fout is——– is al sedert 1995 op anti-depressante en verlede week toe ek die laaste pilletjie sluk, besluit ek mos om sommer nou op te hou, net so, sonder ‘n geleidelike uitfasering.
Want ek voel mos nou eintlik heel OK!
Ja, toemaar, diegene wat kén van sal my nou vertel van depressie wat ‘n chemiese wanbalans in jou brein is en die pille wat ‘n “plafon” vorm; ook dat om skielik op te hou, veroorsaak dat die plafon padgee en jy dan met ‘n wanbalans van epidermiese proporsies sit (a la Oom Oubaas!).
Vanaand besef ek toe dat ek eintlik besig is met onttrekkingssimptome, tipe van “cold turkey”!
So, 10 raaie wat gaan ek more doen?
Ja, sit slim kind! Ek gaan maar weer vir my ‘n botteltjie “ek-kan-cope”-krukke koop.
Maar nou wonder ek …………….?
Is dit verkeerd om maar aan te hou om ‘n pilletjie te sluk wat vir jou onderbewussyn vertel dat jy eintlik heel OK is?
As my apteker dit sou omruil met ‘n suikerpil, sou my brein werklik die verskil agterkom?
My lewe is ten beste van tye maar ‘n interessante en chaotiese plek; stel die ou pilletjie elke aand nie my nie dalk in staat om (relatief gesproke) kop te hou?
Ek is, dank die Here, andersins blakend gesond en het nie ‘n hele apteek wat ek elke dag moet drink nie.
Daarby rook of drink ek nie en ek het ook geen ander gewoontes of maniere om van oormaat stres ontslae te raak.
En daarvoor kan ek opreg dankbaar wees.
Hoe voel julle daaroor?

Hi julle,

Ons het vandag weer ‘n shoot gehad vir die nuwe film, “Endgames”, wat handel oor Madiba se vrylating en al die gebeure rondom dit. Dit was in ‘n sekere mate baie intens en ek is vanaand emosioneel totaal gedreineer!

.

Ons is om 06h00 per bus vanaf “Foreshore”, in die stad, na die eertydse Victor Verster gevangenis in Franschoek.  Daar aan gekom het ons na al die footage gekyk wat verfilm is daardie geskiedkundige dag toe Nelson Mandele as ‘n vry man deur die tronk se hekke gestap het.

Maak nie saak wat jou opinie oor die situasie in ons land is nie, maar die grootsheid van daardie oomblik, 18 jaar gelede, het meer as een van ons weereens na ons sakdoeke laat gryp.

 

Daarna moes ons die hele scenario so getrou as moontlik laat herleef.

 

Die Amerikaanse akteur wat Madiba se rol vertolk, kon net so wel sy broer gewees het. Winnie word deur ‘n uitstekende plaaslike aktrise vertolk.

 

En al het mens geweet dat dit net speel-speel is………….. Die oomblik toe “Madiba” uit die kar klim en na ons aangestap kom, was dit so ongelooflik “real”! Dit was asof  ons die horlosie teruggedraai het!

Koue hoendervleis het op ons uitgeslaan en elkeen het vorentoe gebeur om net sy aandag te kon trek.

 

Vir ‘n paar uur vandag  het oud en jonk, wit en swart en bruin en enige iets tussen-in, saam opgegaan in die vreugde van die oomblik.

Ons was soos kinders wat om Kersvader saamgedrom het; wagtend op die goedheid en guns wat ons gehoop het hy sal uitstrooi oor ons.

 

Julle moet my glo ——- daar hét nie vir ons iets soos ras en kleur bestaan nie; daar was ‘n amper perfekte eensgesindheid en gemoedelikheid onder ons klomp ekstras. Almal het met mekaar gesels en grappies gemaak.

 

In die bus, op pad terug, was almal stil; asof die hartseer ironie van die werklikheid tot ons deurgedring het.

 

Veertien jaar gelede was daar soveel van ons, oor alle grense heen, wat GEGLO het dat ons, met die Here se genade en Madiba se leiding, die nuwe reënboog-nasie se wa deur die drif sal kan trek.

 

Maar as jy na vandag se koerant-opskrifte kyk, lyk dit eerder asof daardie reënboog ook maar net ‘n illusie was.

 

Dis so floppen sad…………….!

Hallo, almal,

Ek  ou vanaand lekker gezelz het, net om agter te kom dat my keyboard nie reg  erk nie!

Jammer, zien nie kanz vir die gezukkel; zal more regmaak.

Lekker zlaap!

 

 

 

Sewe jaar gelde was daar twee vroue, beste vriendinne, ten spyte van amper 15 jaar verskil in ouderdom. Hulle was ook smart-genote, as daar so iets bestaan; want altwee se mans het oor die draad gewei.

 

Die ouer een, Arrabella,(geskeide vrou) was pas getroud met die man van haar drome, Charl, ‘n wewenaar; sy het hom liewer gehad as haar lewe self. Sy het geweet dat hy ‘n sjarmante skurk is wat by elke een in ‘n rok die versekering moes kry dat hy “goed genoeg” is. Sy, soos duisende vroue voor haar, het geglo dat genoeg liefde, “understanding”, vertroeteling en aandag en, bowenal, genoeg aardskuddende seks, hom tevrede en by die huis sou hou.

 

Die jonger een, Karien, was getroud met haar eerste man, Shaun, pa van haar kinders, en ook die man saam met wie sy wou oud word. Maar hy was ook swak in die knieë wanneer dit by ‘n jonger bokkie kom.

Albei mans het op dieselfde tyd hul werk verloor en op ‘n ander dorp gaan werk soek. Albei mans het ook in die tyd meer ernstige, permanente buite-egtelike verhoudings  aangeknoop. Shaun se “skelmpie” was swanger en Charl het ingetrek by sy “skelmpie”, op die dieselfde dorp as waar hy nou gewerk het.

 

Albei vrouens was verpletter; albei het geweet van hul geliefdes se swakheid, maar het geglo dat “liefde sal oorwin”.

 

Nie een van die vrouens kon agterna trek; hulle moes die huise op die tuisfront beman en kyk dat die lewe aangaan, terwyl die mans soos jong leeus gebrul en die lewe geniet het.

‘n Jaar later was dit tyd om keuses te maak; die mans was vasgevang in hul dubbel lewens en was nie van plan om die bootjies te laat kantel.

 

Arabella, ouer, wyser, meer realisties, het besef dat geen draad daai bokke gaan binne-hou. Sy was ook nie gewillig om te deel en na maande waarvan “haar trane (haar) spys (was), dag en nag”, soos die Bybel sê, het sy die skeisaak begin.

Op amper 50, sonder ‘n goeie beroep om op terug te val en met ‘n sieklike ma wat nou by haar ingetrek het, moes sy die skerwe van haar drome en lewe optel en begin aanvaar dat sy heel moontlik haar oudag alleen sal moet deurbring.

 

Karien, het geweier om bes te gee en het deel van haar man se lewe gebly. Aangesien hy bankrot verklaar is, het hulle geskei sodat sy sekere bates kon behou.

Shaun het openlik gewys en gesê dat sy liefde en lojaliteite by sy skelmpie is, maar aangesien sy ook nog getroud was, sonder enige hoop om te kan skei, het hulle maar so aangekarring.

 

Arabella het baie keer met Karien gepraat en haar probeer bemagtig om op te staan en self verantwoordelikheid vir haar toekoms te neem; Karien het eenvoudig geweier en gesê dat hy vir haar en die kinders sal sorg, soos hy belowe het voor die kansel.

 

Dit is nou sewe jaar later. Arabella is steeds alleen, maar met vrede in haar gemoed. Charl is nou met sy derde verhouding besig, waar hy elke keer die huidige skelmpie verneuk met die nuwe een.

Arabella weet dat sy die regte besluit geneem het.

 

Behalwe wanneer sy met Karien gesels; dan wonder sy partymaal.

 

Karien en Shaun is nog steeds saam; hul jongste seun werk al en die oudste dogter het onlangs gesorg dat hulle nou ouma en oupa is. Als baie mooi en rooskleurig. Maar skelmpie se baba is deel van hul lewens; elke keer dat sy kom kuier, word Karien herinner aan die feit dat hy iemand anders liewer het as vir haar, dat hy nie by haar bly omdat hy nie sonder haar kan lewe, maar slegs omdat die situasie hom pas.

 

Wie was destyds reg en wie verkeerd?

Arabella, wat alleen moet oud word, maar verkies het om die pyn uit haar lewe te sny?

Of Karien, wat soos ‘n regte Voortrekker-vrou, besluit het om by haar man te bly, “vir botter of vir wors’?

Maar wat weet dat haar oënskynlike geluk, maar net ‘n seepbel is?

 

Wie vedien die medalje vir dapperheid?

 

 

 

 

 

 

Julle Antie Koekie se stresvlak is deesdae hoër as haar IK ———-en dít, if you don’t mind, is floppen  hoog!

 

En daarby is die maan ook weer vol, wat nooit ‘n goeie ding is nie; hy smokkel mos nog van altyd af met my kop asof  ek die oorspronklike “Moonfairy” is. 

Maar dis ‘n ander storie, vir ‘n ander dag as ek minder beduiweld, bedons en befo………(spel mens nou befoeterd met ‘n  F of ‘n V?) is.

 

Sien, ek is mos toetentaal tegnologies gestremd; ek het dit mos al vir julle vertel?

Ewenwel, my kennis van computers en internet en emails  was maar so-so, net genoeg om my aan die gang te hou. En as ek ‘n krisis gehad het, het ek net geskree en die kinders moes kom help.

 

Maar nóú het ek mos met my blogging, tussen die grootmense begin speel en skielik het ek ‘n hele outydse plaas-buitekleinhuisie se tegniese probleme om te hanteer!

 

My Telkom-Polka-prepaid-dial-up-system is skielik net nie meer goed genoeg nie.

  1. Elke keer as ek net gou wil connect, om te kyk of ek emails het (en., terwyl ek nou besig is, natuurlik ook hoe lyk my hits!) kos dit my so om en by R7. Nie ‘n plaas se geld,maar doen dit nou ‘n paar keer per dag en dan sê daai Telkom-vrou in haar Matriekklas-juffroustem:
  2. “ U het onvoldoende fondse, bla, bla, bla……………..!”
  3. Vandat ek op WordPress is, sukkel ek en Louisa om prentjies en foto’s te laai, sonder enige sukses. Nou kom ons agter dit is blykbaar omdat genoemde Telkom-Polka vennootskap nie goed/groot genoeg is nie.
  4. My dogter stel toe voor dat ek my emails op my sel check – wonderlik! Ek het nie daaraan gedink. Maar hoe doen ek dit? Bel Polka en spandeer meer as ‘n uur op die foon met hulle; kry sekere gegewens en ry na Virgin Mobile, Tygervallei. Twee ure later, sê die laaities dat hulle nie weet of dit nou sal werk, ek moet Nokia bel as dit nog nie reg is .Halloooo! Laaities! As julle dit nie kan doen, hoe moet ek dit dan regkry????
  5. By die huis vind my slim kinders uit dat ek wel kan connect…………………….MAAR NIE EMAILS NIE! Nou vra ek julle, met trane in my navy blue eyes, wat de flip help DIT my? Die antwoord: ‘N GROOT VET ZERO!!

 So is ek dan terug by die spreekwoordelike “square one”, en ‘n hele nuwe proses wat aan die gang gesit moet word, nl:. ek moet een of ander tyd ‘n beter foon kry en ADSL.

Maklik! Die probleem is net dat ons binne die volgende paar weke trek en dat dit sinneloos is om dit nou te laat installeer. Daar is ook soveel opsies om te oorweeg, dat my skoonseun gesê het dat hy eerder die beste een vir my sal kry—–maar dit sal ook ‘n tydjie neem.

Dankie tog vir sy raad!

 

Maar weet julle wat is die groot doring in my vlees – wat is die ding wat my so erg omgekrap het?

Die feit dat ek so hulpeloos onnosel is wat die goed aanbetref!

Ek voel soos ‘n floppen idioot wat saam met Rip van Wyk een dag in die veld, onder ‘n boom wakker geword het!

Ek het my foon nou twee jaar; twee jaar waarin ek al baie gewonder het hoekom ek nie my prentjies so mooi kan sien nie; gister sien my dogter dat my settings in hulle glorie in verkeerd is.

Sy het TWEE knoppies gedruk en siedaar ———–ek het die duidelikste, helderste wallpaper soos wat jy net kan begeer!

Na twee jaar!

 

Wie is die dame wat gesê het dat niemand jou minderwaardig kan laat voel sonder jou toestemming?

Eleonore Roosevelt?

Niemand het iets gedoen om my minderwaardig te laat voel; ek het dit aan myself gedoen!

 

 Want toe het ek skielik besef dat ek wel ouer word, dat ek nie meer al die antwoorde het, soos ek altyd geglo het nie. Dat ek soos in Prediker, ook een dag aan die hand gelei gaan word, soos wat ek nou met my ma moet doen!

 

En hierdie Antie is nog flippen lank nie reg daarvoor nie!

Vergeet dit!!!

Surprise!
Antie Koekie het sommer so vinnig-vinnig die span van Extreme Make-overs gekry en…….Voila! ‘n splinternuwe prentjie!

Ek was absoluut mal oor die pienk blommerige site, maar dit het vir my nie so lekker gelees nie.
I think I’ll stick with this one, thank you.

Behalwe die header se prentjie wat sal verander sodra ons uitgevind het hoekom ek nie foto’s kan laai nie……………Dis erg frustrerend, maar toemaar, als gebeur op die regte tyd, of hoe?

Maar daar’s iets wat my pla.

Ons kla almal oor die lewe en die tyd wat so ontsettend vinnig verby vlieg. Ek het onlangs skoolkinders gaan haal en toe sê die 11 jarige vir sy agt jaar oue maatjie:
“Ek weet nie hoekom vlieg die tyd so vinnig nie. Ek kry nie een week als gedoen wat ek wil nie?”
En sy klein maatjie stem toe heel ernstig saam………………………!

Mense, dis grootmens praatjies daai; nie vir sulke kleintjies nie! Besef ons regtig hoe die kinders die stres van die hedendaagse lewe ervaar?

Nou’t Antie so gewonder —– niks is mos vandag meer permanent nie? As jy met ‘n nuwe top of the range PC by die winkel uitstap, is hy blykbaar al klaar amper verouderd.

“Nothing is forever and no-one stays the same……..”
Geraldine se woorde in “Take me back” (1982)

Dis asof ons nie meer geanker is aan permanensie nie —— huwelike hou nie; realiteits-programme op TV wys hoe maklik die gegewe uitgegooi en vervang word met beter, nuwer, mooier; daar word van niemand meer verwag om 20 jr by dieselfde firma te werk nie, want verandering beteken mos groei.

Julle Antie is maar aan die dom kant as dit kom by filosofeer oor die lewe en swart gate wat mens se energie steel en al sulke vreeslike diep goed.

Maar al die veranderings wat so aanhoudend, permanent, daagliks om ons gebeur; gee dit nie dalk die energie af wat maak dat ons voel asof ons op ‘n rollercoaster ride is wat buite beheer geraak het………?

Is dit hoegenaamd moontlik om skoene in die sand, vas te steek en te sê:
Hokaai, stop die lorrie! I just need to touch base again.

Maar wat van die kinders wat alreeds op die wa van “nuwer en beter” gespring het…………..?


Kalender

Mei 2024
M D W T V S S
 12345
6789101112
13141516171819
20212223242526
2728293031  

Kuiergaste

  • 37 855 gaste

Top Clicks

  • Geen
"I find that the harder I work, the more luck I seem to have." - Thomas Jefferson (1743-1826)