Antie Koekie

Die Lewe maak ‘n mens “Size”!

Posted by: Antie Koekie on: Maart 2, 2009

Die enigste ding wat vandag in my kop is, is “Nog ‘n Groot Trek”, hierna genoem: N’nGT.

 Maar ontspan, ek sal nie weer so ‘n boks-vir-appelboks verslag lewer soos met die vorige trekke nie.

Maar terwyl ek vandag so loop en plannetjies maak, onthou ek ‘n gesprek wat ek vandag, presies ‘n week gelede, op Stellenbosch met Sonja gehad het.

Sonja is Aunt Rina, my ma se ou buurvrou van Hennenman, se jongste dogter. Sy en haar gesin bly nou ook presies drie jaar in die Kaap en het nou besluit, genoeg is genoeg——— Hennenman roep!

En toe ons verlede week gaan groet, vra ek met opregte belangstelling, uit die diepste van my wese: “Verduidelik asse-flippen-blief tog net vir my: Wáárom, hoekóm, om watter rede op aarde, sal énige mens willens en wetens die Kaap verlaat vir die Vrystaat (of enige ander plek, waar ook al!)?”

Sonja het verduidelik: van genoeg van die stadslewe en verlang na eie mense en al sulke onverstaanbare goed, maar ek (ja, EK, wat Antie Koekie is en gister se post self geskryf het!!), ek raai haar toe aan om eers dokter toe te gaan, want ek vermoed sy ly aan ‘n ernstige hormoon-versteuring of so-iets!

Ha! Ek is doodseker dat ons Liewe Vader, wat ‘n wonderlike sin vir humor het (dis waarom Hy baba katjies so kordaat gemaak het), stilletjies vir my gelag het!

Want nét vier dae later, ondergaan ek ‘n paradigma skuif van epidermiese proporsies in my denke!

Net vier dae later, toe ek besef dat my versigtig-saamgestelde ondersteuningsnetwerk van my kinders naby my, binne die volgende paar weke inmekaar gaan foeter en ek en Ouma alleen gaan agterbly, toe doen ek onbewustelik ‘n back summersault.

Kyk, dis vreeslik wonderlik om by die deur uit te kyk en Die Berg te sien, maar as Skoonseun nie daar is om gou my PC se nuk reg te maak, gaan Die Berg niks help! En Blouberg se brandertjies gaan my nie help om gate te boor om prente op te hang, en, en, en…………

Dis toe dat ek sommer hardop vir myself begin lag en ek dink aan my oom wat altyd gesê het die lewe het ‘n manier om ‘n mens so maklik “size” te maak…………..

Wel, Maatjies, Antie is “size” gemaak en ordéntlik daarby!!

 

1 Response to "Die Lewe maak ‘n mens “Size”!"

Liewe Anti Koekie,
Ek weet nie of dit my haarstyl is en of ek net ‘n magneet vir poef is nie, maar ek KEN van daai “size”-ding! Die lewe timmer en rol gereeld my planeet!! :)

Leave a Reply