Posted by: Antie Koekie on: Maart 1, 2009
Dis Sondag, die eerste dag van Maart en julle favourite Antie is (alweer!!) in ‘n flat spin, like you won’t believe it! (Hoekom voel dit vir my asof ek daai woorde al voorheen gesê het?) Kom ek verfris net die geheue: Mrt. ’06 trek ons (ek & Ouma) Kaap toe, om by Seun te kom bly. Hy wou nooit trou; ek sou vir myself sorg met skryfseltjies en smouswerk en vir hom huishou en Ouma se mynpensioen sou haar voorsien van pille, tjoklits en elke week se Vrouekeur! In teorie: 100%; Pragtig! Maar John Lennon het mos gesê dat “Life is what happens while you are making other plans.” Of iets in dier voege! Well, life happenend——– Cupido het Seun getref! Met die mooiste ou meisietjie, ‘n hele 11 jaar jonger as die amper verstokte oujongkêrel! Nogal met haar eie woonstel, aan Pa se huis, so dit was ‘n logiese skuif na haar nessie toe. Dogter en skoonseun se woonstel word verkoop en ons besluit om maar, weens finansiële oorwegings, saam nes te skrop, totdat……….. Wel, “totdat” is nou hier! Slim, hardwerkende, ambisieuse Dogter het 99% ‘n bestuurspos ver van hier losgewerk (letterlik, dag en nag, 24/7 ALLES ingesit in wat sy doen!). Ek gun my kind dit! As daar een mens is wat die erkenning verdien, dan is dit sy! Maar dis nou hier waar hierdie pragtige legkaart se stukke so bietjie erg deurmekaar raak. Julle Antie Koekie het mos een moerse flaw in haar samestelling. Behalwe dat sy ‘n liefdevolle omgee-mens is, wat altyd ander se einas wil gesond maak, het sy geen, maar absoluut géén finansiële ambisie of dryfkrag of die droom om eendag met Donald Trump op die aandelebeurs te kompeteer nie. Glad en geheel en al nie!! Ek wou nog nooit (stink)ryk wees nie. Al wat ek nog altyd begeer het, is genoeg geld vir boeke,tydskrifte, CD’s, scrapbooking goeterjies, katkos, airtime, internet, petrol en so nou en dan, ‘n nuwe lipstiffie. O, ja, en vir ‘n goeie fliek of ‘n nuwe opvoering sal ek ‘n week lank brood en cup-a-soup eet, sonder probleme. In Welkom kon ek en Ouma oorleef, so op ons eie saam. Hier in die Wes-Kaap? Nie ‘n tiekie se kans nie! En met ‘n huishuur van R5000 wat wag, help dit ook nie eens ek ry tot waar ek Die Berg kan sien, en dit my gewoonlik beter voel laat nie! Die wrede werklikheid is dat ek moet kies. Aan die een kant is Die Berg en Bloubergstrand en die wonderlike Kaapse winde, en dan die gepaardgaande 08h00 – 18h00 sit in ‘n kantoor, ses dae van die week, teen ‘n salaris wat net-net genoeg is, en my ma wat elke dag alleen sal wees tot ek donker huis toe kom. Aan die ander kant is daar die bekende Goudveldse vlaktes, met goedkoper behuising, die hulp en liefde van familie en ou bekende en geliefde vriende; moontlik weer werk as Antie van die Koerant en miskien ‘n ander opsie wat opduik? Antie Koekie het dus gister, in beginsel en met baie trane, die besluit geneem om terug te trek na haar geboorte grond. Die logistieke van my besluit laat die destydse Bybelse trek deur die Rooi See lyk na ‘n sondagskool piekniek. Ek het nie ‘n benul van wat, waar, hoe, of wanneer en waarheen nie. Ek weet net ons moet huis toe gaan. Ons trek hierheen was vir my as mens, die beste ding wat ek kon gedoen het. Ek het 10 jaar wyser geword in hierdie drie jaar. Daarvoor sê ek “Baie Dankie”! Dit is immers hiér wat ek, deur Louisa se toedoen, leer Blog het…….. So, Maatjies, ek stuur my posadres vir enige donasies van tissues (vir die trane) en tjoklits (vir die troos) en rooi wyn (vir die pyn)! Die appelbokse sal ek maar self by Fruit n Veg gaan haal ———- hulle kén my mos al teen die tyd……………
Lankal tyd gewees vir jou om terug te kom.! Die Goudveld en sy mense wag vir jou!
Maart 1, 2009 at 21:29
Ai Antie Koekie, ek weet presies hoe swaar jou hart moet wees op die oomblik. Die Kaap het maar ‘n manier om onder mens se vel in te kruip en nooit weer uit te klouter nie.
Alle sterkte met die pak, en die baai se^.