Posted by: Antie Koekie on: February 8, 2009
Kyk Maatjies, julle Antie is vandag op ‘n high like you won’t believe it!!!
En voor julle nou weer enige idees kry———– nee, dit is niks X-rated goed nie! Ek en my liefie is mos half ordentlik!
O, ja, ek beter hom seker ‘n naam gee, nê? Wel, sy naam begin ook met ‘n A, en hy is my Nommer een, dus…………… “A-One”! Vrek, nee! Dit klink te veel soos ‘n Bar-One!
Sal maar by “Liefie” bly, of wat sê julle? (Red nou ‘n nasie met sulke oorspronklikheid!!)
In elk geval, vandag, hierdie sewende dag van Februarie 2009, was ‘n dag van Groot Gebeurlikhede vir my.
Nr.1: Ek, Antie Koekie, het vandag op 55 en ‘n halwe jaar, geleer swem!!! En ge-float! Sonder om te sink!
Nee, moe-nou-nie jou stukkend lag nie, dis ernstige sake!
Ek was nog op laerskool toe ‘n simpel seunskind my agteroor gedip het. En vir my, Julie-baba, Kreef, waterteken, was dit soos die doodstraf!
Menige dapper held het al probeer om my te verander in ‘n vis in die water; almal begin altyd met die standaard: “Lê agteroor op my hande, ontspan en gee jou oor aan die water.” So maklik. Nê?
Die oomblik dat ek moet ontspan word ek so styf soos ‘n stok en dan sink ek soos ‘n vis!
En dan’s die swemles in sy kanon in!
Vandag was dit nou regtig BLOEDIG warm in die Kaap. Die kompleks waar ons bly het ‘n parkie met ‘n oulike swembad en toe die kinders vanmiddag besluit om te gaan swem, het ek en Liefie besluit om ook so te maak.
Nou moet julle verstaan, julle favourite Antie het laas ‘n swenkostuum gehad toe ek nog ‘n lyf gehad het. Ek kon nog nie een kry wat cater vir my Unique Physique! (Of wat my so maer en sexy laat lyk soos desjare………!)
Maar niks fout met ‘n short en camisolerige toppie nie—— die doel heilig die middele!
Die water was ongelooflik; die jongmense wat ook daar was, kon nie glo dat so ‘n “ou tannie” nie kan swem nie——– ‘n sesjarige dogtertjie het tot aangebied om te help!!!!!
Maar Liefie het gesê: “Voor ons huistoe gaan sal jy swem.”
En ek het gespartel en geprobeer en gesink en watergetrap soos ‘n seekoei met malkoeisiekte.
En toe skielik, onverwags, vorder ek een tree vorentoe en toe nog ‘n tree en nog een……
Toe gil ek dat die bure oor die straat se honde begin blaf: “Ek het geswem!”
O, dit was AWESOME verby!!
Kyk, dis nou glad nie vreeslik sierlik en grasieus nie; dit lyk baie soos wanneer ‘n krokodil spook om sy buit diepwater toe te vat!
But who cares!
Ag, genade, almal was tog so beïndruk met my!
Die drywery het bietjie geneuk. Dit het glad nie gehelp dat almal óm my penskant bo omgedop het nie—– ek het gesink!
Laatmiddag sit Liefie toe op die kant saam met die ander en hulle ruil grappies uit. Die gespook om nie te verdrink nie het my lekker moeg gemaak. Ek leun toe so terug in die water, terwyl ek aan sy voete vashou, en lê so met toe oë en luister na al die bollie wat hulle kwytraak
En skielik, uit die bloute besef ek dat ek besig is om te dryf………
Whao! Mense, kan julle begín om te begryp hoe ek gevoel het?
Die één ding wat ek nog my hele lewe lank begeer het om te kan doen, het ek vandag gedoen!
En dit voel FLIPPEN goed, glo my!
Maatjies se Menings