Antie Koekie

Jerminah is dood.

Posted by: Antie Koekie on: October 9, 2008

Vandag het Délene gebel om te sê Jerminah is dood.

En my hart is seer, soos wanneer ‘n suster dood is.

 

Sy het saam met my by Grünlust Guesthouse, Délene Bester se gastehuis op Odendaalsrus gewerk. Ek haal ‘n foto uit wat een kersfees van ons geneem is; Bernice, die huishoudster; Maria, verantwoordelik vir die kombuis en die was- en strykgoed; ek, sekretaresse/PA, in die middel en dan, Jerminah.

 

Toe sy destyds daar begin werk het, was dit as skoonmaker, iemand wat net gesien en nie gehoor is nie. Bernice het al die personeel met ‘n ysterhand regeer en “Jamientjie”, soos ons haar genoem het, het maar net stilweg haar gang gegaan; sy het haar oë oop- en haar mond toegehou en sy het geleer! Sy was beleefd, onderdanig wanneer dit van haar vereis is, maar nooit, ooit kruiperig.

Sy het naderhand Délene se raakvat regterhand geword as daar spogtafels gedek moes word vir belangrike funksies. Délene sou een tafelruiker maak en dan sou Jamientjie dit getrou naboots. Sy het geweet watter silwer messeware om uit te haal en watter tafeldoek pas by die swaar silwer centre piece met die wit rose.Wanneer daar gepak moes word vir ‘n vakansie, het sy presies geweet wat om in te pak.

Ons het elke jaar ‘n stalletjie van eksklusiewe geskenke en tafelware by Nampo gehad en sy was alleen verantwoordelik vir die inpak van al die kosbare fyn porselein.

Toe Délene se besigheidsbelange haar na Bloemfontein geneem het, kon sy die bestuur van die gastehuis met ‘n geruste hart in Jerminah se hande laat, wat sy dan ook gedoen het tot en met haar dood.

Hoekom ek oor Jerminah skryf? Sy was mos maar net ‘n bediende, ‘n char, ‘n cleaner;  nie ‘n celebrity wat voorblaaie gehaal het nie?

Die Xhosa-mense het ‘n pragtige sêding: “Strike a woman, strike a rock.”

Jerminah was so ‘n rots. Terwyl sy elke dag getrou haar werk gedoen het, het haar man sy werk verloor, by die huis gebly vir ‘n paar maande, weer gaan werk as hy ‘n los gelukkie gekry het en later maar weer by die huis gebly. Deur haar konstante harde werk het altwee haar dogters as pragtige, netjiese, goedversorgde meisies gematrikuleer. Sy laat dogters agter wat geleer is om sterk te staan en te doen wat gedoen moet word.

 

Soos wat die Afrika-gewoonte maar is, het hulle vir ons blankes, Afrika-name gegee. Délene was “Mapitso”, Johann, “Makalela” en ek, “Mamusa”, wat as dit vry vertaal word iets beteken soos “The one with the gentle heart.”

En van als wat ek op aarde bereik het, is hierdie naam een van die kosbaarste goed op my “lewens-CV”!

Ek hoor vandag nog vir Jerminah so lekker lag as ek iets stouts gedoen het: “Mamusa! Ai, Mies Alta, jy is ‘n ander een!”

 

Jamientjie, ek hoop ek en jy gaan eendag, daar Bo, sáám by die mooi gedekte Bruilofstafels sit.

Dankie vir die mooi voorbeeld van geduld, liefde, verdraagsaamheid, vriendelikheid en sagmoedigheid wat jy vir my, en almal wat met jou in aanraking gekom het, gestel het.

“Tsamaya hantle, Jerminah!”

Loop mooi.

5 Responses to "Jerminah is dood."

Wow, dit is ‘n baie mooi eerbewysing aan haar.

Mens mis sulke mense wat in ons harte geklim het, baie meer as ander wat net in die pad verby geloop het. En mens wil dit nie anders hê nie.

((Antie))

Baie jammer (((Antie Koekie)))

Sy sou baie bly gewees het oor hierdie mooi inskywing van haar!

Ek comment nooit nie – geniet jou inskrywings!

Waarom is jy nou so stil??

klaudina, welkom by my plekkie! ja, ek glo ek sal nou weer meer skryf, het so baie om te vertel!!
hi, krista, wipneus en eilandkind, dankie ook vir julle inloer!~

Leave a Reply