Antie Koekie

14 Weke tot Kersfees.

Posted by: Antie Koekie on: September 17, 2008

Kan julle dit glo? Daar is net omtrent 14 weke oor voor Kersfees!

Daardie histeriese mal tyd van “Vrede op Aarde” wanneer vrede die laaste ding in ons gedagtes is. Die tyd wanneer jy jouself ‘n kopseer in stres oor wát jy vir wié gaan koop, teen belaglike feestydgelaaide pryse en dít op jou depressiejare begroting.

 

Verlede week het ‘n man voor my olywe tafel gestaan en al die produkte geproe en toe in sy sakboekie geskryf.

Ek dog dis weer een van daai wat self olywe inlê en nou idees en pryse wil steel. Hy moes my frons “gelees” het want hy vertel my toe van hierdie ongelooflik briljante gebruik in hul familie.

Kersfees koop hulle net klein geskenkies vir mekaar; so‘n troostertjie. Maar wanneer dit by verjaarsdae kom, haal hulle uit vir die groot bederf.

Die verjaarsdagmaatjie maak dan ‘n lys van daardie spesiale sielsgoed wat sy graag wil hê en ook die goedjies wat sy so hartstogtelik begéér en wat sy weet sy nóóit sal kan koop nie, “want mens koop nie sulke extravagant goed in hierdie swaar tye nie!” (So sê haar ma altyd as sy sulke dienlike commen sense geskenke vir almal koop.)

Die ander gesinslede en/of vriende en geliefdes werk dan van dié lysie af om die herdenking van haar geboorte so spesiaal te maak as wat hulle kan.

Ek dink dis so slim!

 

After all, jou verjaarsdag is JOU eie dag wat Liewe Jesus spesiaal vir jou gegee het. Moet dit nooit vergeet nie! Jy’s nie net ‘n nommer op ‘n production sheet nie; dis in die Hemel beplan dat jy, op daardie spesiale dag, jou blink ogies in hierdie interessante ou wêreld gaan oopmaak.

 

Baie mense, veral as hulle begin ouer word, word tog so songelooflik sinies en droog! Hulle sê dat verjaarsdae sommer bog is; dat hulle nie meer verjaar, net verouder. Hulle voel ook baie gelukkig as Die Dag ongemerk kan verbyglip sonder dat iemand daarvan wet of onthou het.

Amanda is een van hulle. As jy haar op dié geseënde dag sou verras met blomme en ’n koek en groot fanfare, sal sy enige vreugdevure natpiepie met haar meerderwaardige verdraagsaamheid; sy laat jou voel soos ‘n simpel kind wat regtig nou moet grootword en besef verjaarsdae is vir klein kindertjies, amper soos die tandemuis.

Ag, hoe saaaad!!

 

 Ongelukkig (of is dit gelukkig?)  is almal in ons gesin se verjaarsdae nou verby (ons almal verjaar van April tot September), maar ek gaan probeer dat ons dit hierdie Kersfees al so begin doen. Wat die kleintjies aan betref, sal Kersvader maar seker nog steeds sy swaar sak moet bring……….!

Ek gaan sommer nou al aan my lysie begin werk vir volgende jaar. As ek dan intussen kans kry om myself te bederf, kan ek mos op my lysie gaan kyk ( en gereeld nuwes byvoeg!).

 

My ou moeder word Oktobermaand 80 en ek beplan om dit vir haar baie spesiaal te maak. Sy het baie sleg verplant van die Goudveld af, Kaap toe. Te veel traumatiese gebeure in ‘n tydperk van slegs vyf maande het sy merk op haar, eintlik ons almal, gelaat!

Sy het ‘n groot operasie ondergaan in Okt.’05; die wond het twee keer septies geraak en is gedurende November (weer onder narkose), skoongemaak en gedreineer. Daarna is my Cila oorlede (Des.’05) en het ons Maart 2006, Kaapstad toe getrek.

Sy verlang huistoe en met huistoe bedoel ek die skoonsusters en swaers op Hennenman, my pa se graf (ook daar), die biduur vriende op Odendaalsrus en sommer die oop, plat Vrystaatse vlaktes. Waar sy daar elke Sondag opgelaai is vir kerk en elke Woensdag, vir biduur, kom sy nou basies nooit meer in die kerk nie.

Ek en die kinders beplan nou om vir haar ‘n goeie radio/CD speler te koop, sodat ek elke week vir haar die naweek se preke kan kry en sy dan daarna kan luister. Verder wil ek haar een muur vol foto’s van al haar geliefdes hang.

 

En dan wil ek haar vat vir Gloria Jean’s se spesiale gebakte kaaskoek———- die beste wat ek nog ge-eet het.

 

Wat gee mens vir iemand wat 80 jaar oud is, bitter min van die lewe vra en wie se wêreld so groot soos haar kamer en haar stoel voor die TV is?

Liefde, aandag en die skaarste en duurste ding op aarde………jou tyd!

1 Response to "14 Weke tot Kersfees."

Ek stem as iemand 80 word vra hulle nie meer veel nie, aandag en tyd is die beste geskenk!

Leave a Reply