Antie Koekie

Biker Chick verlang!

Posted by: Antie Koekie on: Julie 30, 2008

Vanaand lees ek toe vir Gertgariep raak en daar krap die flippen mannetjie aan ‘n plek wat nie nou jeuk nie!
En die plek jeuk nie nou nie, omdat ek gereeld troos-roompies en salfies aansmeer, sodat die plekkie nie kan onthou om te jeuk nie.
En die slag, soos nou as hy jeuk, kom klou die verlange aan my siel soos ‘n swerm vlermuise.
En dan hoor ek ook nog vandag ‘n lied van Bon Jovi wat ek glad nie ken nie, “A whole lot of leaving”, en die wysie dra sy eie hartseer saam.
Antie Koekie voel dus vanaand lus om soos ‘n eensaam wolf vir die volmaan te huil.
Sien, in my vorige lewe, daar op die Vrystaatse Goudveld, was ek ‘n biker —- nie ‘n motorfietsgeesdriftige nie, ‘n regte biker!

As “Die Antie van die Koerant”, (korrespondent vir NetNews) was ek soort van die bikers se spreekbuis vir die koerant. En al het ek nie self wiele gehad nie, was daar altyd, maar altyd vir my ‘n gaatjie agterop as ons op ‘n run of na ‘n rally gegaan het.
Soos dit ‘n bevryde vrou van die millennium betaam, het ek my eie helmet, cut-off, leerbaadjie, pers tentjie, enkel matrassie en slaapsak gehad. (Het dit nog steeds— dit is net diep weggebêre, sodat ek dit nie elke keer raaksien nie!)

Terloops,‘n motorfietsgeesdriftige is iemand wat ‘n motorfiets met aansien koop, soos bv. ‘n Harley Davidson, ‘n BMW, ‘n Goldwing of so iets. Hy hou hom in sy motorhuis, toegemaak met ‘n spesiale seil en elke Sondag trek hy hom uit en ry Spar toe om die Rapport te koop. Dan ry hy met so ‘n draai terug huistoe en Maandag vertel hy vir almal, hy het die naweek weer bietjie fiets gery. Ag shame!!
Moet my nou asseblief net nie verkeerd verstaan nie——– niks, maar NIKS, kom by die bekoring van ‘n Harley se “potato-potato-potato” klank nie. ‘n Harley is ‘n Harley is ‘n Harley!
(En die lekkerste lekker is om pillion te ry en as julle so stadig deur ‘n dorp ry, dan waai jy met so ‘n slap Queen Elizabeth” polsie vir al die mense. O, vrek, dis lekker!!)

‘n Biker? ‘n Biker is ‘n direkte afstammeling van die Voortrekkers; ‘n biker is iemand met meer moed en durf en lewenslus as gesonde verstand. Hy klim op sy bike en hy weet presies hoe gevaarlik dit is; hy weet ook hoe dit voel as jy die oop pad vat en die teerpad word net so ‘n potlooddun strepie voor jou. En hy weet van die lekkerte wat opborrel in jou binneste tot jy wil ontplof!
‘n Biker se bike staan enige plek waar hy hom wil laat staan; die garage, die stoep, enige plek waar hy sommer net vinnig kan opklim en ry! Hy kan gewoonlik ook self al die bike skete regmaak (of dan, een van sy pelle). Sy bike is sy lewe. Punt.
En as jy pillion (passasier) ry? Jou maat klim voor op, jy trap op die footrest, as jy kort is soos ek,druk op sy skouer en swaai jou been oor. dan kry jy jou sit,sit jou hande op sy bobene, hy start die bike, haal hom van die stand af (of andersom?) en dan trek hy weg.
Vir die wat nie weet nie—- dit is ‘n onbeskryflike gevoel. Die bike versnel, jy voel of jy agtertoe gegooi word en al hoe jy dit beveg is deur jou binne-dyspiere saam te trek en vorentoe te leun, teen jou maat se breë leerbaadjie rug vas.
En dan word julle een met die son en die wind en die pad en die dag en die lewe!! Jy is in jou klein kapsule van stilte en vir kilometer na kilometer dink jy jou eie dinke, sonder om te moet gesels. Jy is alleen, maar jy is nie eensaam nie.
En as jy anderkant afklim dan sê jy vir God “Dankie” omdat jy so buitengewoon geseënd is om so iets te kan beleef!

Hoekom ek vir die maan wil huil? Ek is nou 28 maande in die Kaap en ek het nog nooit hier bike gery nie! Nie omdat ek nie al die regte dinge gedoen het om betrokke te raak nie— ek het! keer op keer! Maar dit word elke keer op ‘n onverklaarbare wyse ge-blok!
Weet julle hoe voel dit?
Vir my, spesifiek, vir wie dit die enigste manier is om werklik te “ontsnap”, is dit erger as wat julle kan glo.

Ek kan maar net glo dat daar ‘n baie spesifieke doel daarmee is.
Maar ek kan droom en hoop en onthou, kan ek nie?

7 Responses to "Biker Chick verlang!"

Hi Antie Koekie ek het lekker gelees!! Ek is ook mal oor ‘n Harley!!

Dit klink of jy omtrent hierdie week na die Vrystaat en sy mense verlang. :sad: Ek hoop jy kry gou ‘n fix vir jou ontrekkings! :wink:

Ons het so 6 jaar terug uit die Kaap getrek en ek dink daar het my ‘lewe’ agter gebly. My man het ‘n Kawasaki gehad en 2 van sy vriende ander bikes. Ons het lekker rondgery, was nou nie groot bikers nie, maar het tog die Kaap so bietjie verken. Vandag mis ek dit en voel ek sommer ook oud. Ek dink dit was die outrageous ding wat ek gedoen het wat die adrenalien nog so bietjie laat vloei het.

Nee, Antie Koekie, ek dink jy moet vinnig ‘n geleentheid skep om weer op ‘n bike te kom!

Antie Koekie, jy gaan onttrekking kry. Die DT’s gaan jou tref, erger as griep met ‘n hoë koors. Gaan krap uit daai pers tentjie en trek jou leerbaadjie aan.

Good Blog!
I like Harley Davidson too.
It is classic motorcycle.

Some of the most interesting, groundbreaking, or just plain weird motorcycles that have been built over the past 100 years.

Leave a Reply