Antie Koekie

4 Vroue.

Posted by: Antie Koekie on: Junie 19, 2008

Ek het Sondag die wonderlikste skat in die Bybel ontdek.

Nogal in een van daardie ellelange geslagsregisters.

 

Ek  lees dit mos eintlik nooit nie (wie doen??), want daar’s geen bemoedigende versie in om my deur my dag te dra of ‘n belofte om aan vas te hou nie.

(Eintlik redelike vervelige leesstof, as jy my vra)(Met respek!).

 

Maar Dr. Lemmer Du Plessis, van Hermanus, stap toe Sondagoggend by my kerk agter die mikrofoon in en hy begin die geslagsregister van Jesus opsê, soos opgeteken in Matt.1, vers 1-17.

“Vers 2: Abraham was die vader van Isak, en Isak die vader van Jakob, en Jacob die vader van Juda en sy broers;”………..en so gaan hy aan tot vers ses………..BORRIIING!!

 Ek het net begin dink aan die reën buite en my warm bed wat ek moes los…………. toe iets in sy stem en sy kyk, my vertel dat iets aan die kom is.

En daar, op Vadersdag, gee hy aan die vrou van vandag ‘n geskenk; die  vrou wat al onder ‘n man se hande (en tong!) deurgeloop het, wat ge-use en ge-abuse is; die vrou wat minder mooi goed moes doen vir oorlewing; daardie vrou wat kan sê: “Been there, done it, got the T-shirts (and the scars!)”………………

 

Gaan lees bietjie daardie eerste ses verse. Daar word van vier vroue gepraat: Tamar, Ragab, Rut en Uria se vrou, Batseba.

 

DIT IS DIE ENIGSTE VROUE WAT IN DIE GESLAGSREGISTER VAN JESUS CHRISTUS GENOEM WORD. (Behalwe Maria, sy moeder, in vers 16)

 

En nie een van hulle was hierdie lelie-blanke, onkreukbare, smetlose, Spreuke 31-vroue.

Hierdie vier vroue, kan jy maar sê, “have been through life”.

Tamar, Ragab en Rut was heidense vroue, net Batseba was ‘n Israelliet.

Tamar was getroud met Juda se seun; toe hy sterf bly sy as ‘n kinderlose weduwee agter. Volgens gebruik, trou die volgende broer toe met haar, en dieselfde ding gebeur weer. Nadat sy baie lank gewag het op die beloofde derde broer, neem sy beheer oor en sy vermom haar as ‘n prostituut, en skoonpa (ok maar mens!) maak van haar dienste gebruik.

Deur sy ring en staf wat hy by haar gelos het as pand, kan sy bewys dat hy die pa van haar kind is. Konkelwerk, ja, maar sy het haar kind gekry; ‘n kind wat ‘n noodsaaklike skakel in die geslagsregister van ons Verlosser was.

Ragab was ‘n prostituut wat op die stadsmure van Jerigo gewoon het. Sy was seker een van die beste van haar tyd, want sy het haar hele familie onderhou. Maar sy was wys genoeg om die God van Israel te herken as die Enigste Ware God. Daarom sluit sy ‘n ooreenkoms met die verspieders en sy en haar familie word gespaar. Weereens  konkelwerk,  maar daardeur red sy haar familie. Sy het ook nie met haar beroep voortgegaan nie, want sy is met Salmon getroud en het gesorg vir die volgende skakel in die register, Boas.

Rut kon ná haar man se dood, teruggegaan het na haar mense, maar sy verkies om by Naomi te bly. Sy gaan tel koringare op wat agtergebly het op die lande, Boas raak verlief op haar, sy gaan lê een nag by sy voete……….”and they lived happily ever after”!

Sy het nie gekonkel nie; maar toe dit nodig was, het sy gedoen wat sy moes, vir haar en haar skoonma se oorlewing. Hul seun was Obed, “v.5a: en Obed die vader van Isai, v.6a: en Isai, die vader van koning Dawid……..”

Kan jy nou meer! Sulke seuns, uit sulke moeders?

En dan die arme Batseba. Ek wens iemand wil ‘n roman skryf oor haar.

Hier is sy, pasgetroud, man op die grens, onskuldig besig om te bad. (Maar hoekom op die dak, in die dag, terwyl sy moes geweet het iemand gaan haar sien?)

In elk geval, Koning Dawid sien haar toe, en stuur dadelik iemand om haar te gaan haal. Hy was onmiddellik verlief. Die uiteinde van die storie was dat hy dit so kon bewimpel dat haar man in die oorlog sterf.

Dawid moes ‘n prys betaal hiervoor; hul liefdeskind sterf..

Maar wat van haar? Sy was die koning se speelbal, maar hoe het sy gevoel? Was sy lief vir Uria? Hoe kon sy haar pose by Dawid hou, terwyl sy weet hy het haar man laat doodmaak?

Of was sy ook lief vir Dawid; was dit dalk ‘n klassieke hartstogtelike driehoek situasie, waar haar verstand gesê het sy hét ‘n man,maar haar hart en lyf het na Dawid gehunker?

 

Tussen ons is daar vandag ook Tamars, Ragabs, Rutte en Batsebas. Die feite verskil maar die storielyn bly baie dieselfde.

Party van ons moes of het ook met tyd, dinge gedoen het waaroor ons vandag minder trots is. Ander was slagoffers van seksuele wandade deur pa’s en stiefpa’s, maar hulle het opgestaan en ‘n sukses van hul lewens gemaak, al voel dit vir hulle op die skande sigbaar is vir die hele wêreld.

 

Die hele wonder van die hierdie verhaal is dat God die eer om in die geslagsregister van Jesus van Nasaret opgeneem te word, aan gewone vroue gegee het.

Sondaars, wat eintlik, in hulle tyd, gestenig moes geword het.

Dit sê vir my dat eendag, met die groot Bruilofsmaal, die “Vroue-met-Ervaring” ook genooide gaste sal wees; dat hulle nie met neergeslane oë, êrens, agterlangs sal moet sit nie.

God het hierdie vier vroue se stories laat opteken, sodat die vroue van vandag kan weet, God was, en is, en sal vir ewig dieselfde bly.

So, komaan vriendin, lig op jou kop, glimlag mooi, neem Sy hand; jy’s ook kosbaar in Sy oë!

Wie weet wat beplan Hy dalk vir jou?!

6 Responses to "4 Vroue."

Hei ek glimlag en lig my kop op…. miskien is daar groot planne vir my…. baie mooi

Pragtig geskryf!

Wow, pragtig! Ek hoop Hy beplan vir my en vir jou iets regtig spesiaals. Dink nogal ons kan altwee daarmee doen. Gelukkig is 2 Julie nie meer te ver nie – onthou dit is skoolvakansie en ek mag straks net verveeld raak.

Hallo daar
Ag nee man – dit is vandag die 2de. Het Telkom nou nog nie opgedaag nie. Dit raak nou ‘n frustrasie. Jy weet mos dis vakansie!! Wat moet ek nou lees.

Baie geluk met Antie Koekie se verjaarsdag. Mag daar nog baie in die toekoms wees.

Hi Antie Koekie,

Dis regtig een van die mooiste stukkies skryfwerk wat ek nog gelee het. Ek gaan die een print, en dit deel met alle vroue ;) Dankie.
Groetetjies
Sonneblom

Leave a Reply