Antie Koekie

Ciao, Kitchenboy!

Posted by: Antie Koekie on: Junie 18, 2008

Liewe Braam,

Al het ek jou nog nooit met ‘n oog in lewende lywe gesien nie, tjank ek my papnat elke keer as ek nóg ‘n beriggie oor jou dood of jou begrafnis lees.

Hoekom?

G’n mens weet nie en ek? Minste van almal!

Dis baie beslis nie oor jou kosmakery nie – want ek haat kook. Ek beskou dit as ‘n absolute vermorsing van kosbare leestyd om ‘n halwe dag in ‘n kombuis te spook voor ‘n warm stoof……………en dan eet jou gaste dit in 15 minute op!

As iemand ánders die kook- en bakwerk doen en ek is deel van die gaste ……………. Wel, dan is dit ‘n ander saak! Veral as dit poeding is en ek ‘n doggy-bag kan saamvat om vanaand, in die bed, saam met ‘n mooi boek te geniet.

 

Wat is dit dan?

Miskien het ek jou guts bewonder.

Jy is al beskryf as flambojant, eksentriek, ánders, kleurryk, eerlik, kreatief, nie bang om sy grense te skuif of om die vreemde te ondersoek.

Ek het na jou gekyk en gesien dis hoe dapper ek, sélf, graag sou wou wees.

 

The Reader’s Digest Oxford Complete Word Finder beskryf “eccentric” onder andere as volg:

“Unconventional; odd; peculiar; strange; bizarre; outlandish; quirky; offbeat; whimsical; out-of-the-ordinary.

Ook:  

Capricious: 1. Guided by or given to caprice. 2. Irregular, unpredictable.

 

Caprice:   1a. An unaccountable or whimsical change of mind.

2.      A work of lively fancy in painting, drawing, or music.

 

Siedaar: Braam Kruger in ‘n neutedop opgesom!!

 

 Ek het Sondae gelees hoe jy jou pragtige Amalanka besing; gesien dat jy nie ‘n duiwel omgegee het wat mense van jul “Beauty and the Beast” verhouding dink. Jy was blykbaar ook ‘n absolute ‘chick magnet” was, vrouens was blykbaar mál oor jou…… en dit sonder dat jy na Jamie Bartlett of Stefan Ludick gelyk het!

 

En die storie van jou rooi-geverfde naels? Omdat, volgens jou, as jy in die stort staan en jy was jou lyf en jy kyk so af en sien die rooi naels, dan is dit maklik om jou te verbeel dat dit ‘n vrou is wat met jou lyf besig is!! Kostelik! Briljant!

Ek lees jou geliefde Amalanka het, na jou dood, as ‘n laaste eerbetoon, jou self gewas en voorberei vir die begrafnis; vir oulaas jou naels mooi rooi ge-cutex en jou ligblou  velveteen-broek aangetrek.

Elmarie, ek is vrek jaloers op die skatkis van wonderlike herinneringe wat jy saam met jou dra (“Die lewe saam met hom was nooit net sommer nie……..Twintig jaar gelewe in ons twee jaar saam.”)(Rapport, 15/06/08).

Baie sterkte vir vaal en flou troostelose dae wat nou voorlê.

 

Kitchenboy, mag ek vanaand op jou ‘n glasie klink?

Ek, en al die mense daarbuite wat graag die moed sou wou hê om uit die kas van “Normaal”, “Standaard”, of “Sosiaal Aanvaarbaar” te klim om ‘n kleurryke “statement” te maak.

 

Dankie dat jy ons gewys het hoe “eksentriek” regtig lyk, in al sy wonderlike glorie.

Dat die betekenis van “eksentriek” eintlik is om tot op die been eerlik, buite die boks te leef, getrou aan jouself!

 

En daarom gaan ek vir my ‘n bloedrooi rok maak. ‘n Lange; so ‘n hier-vat-en-daar-los rok van sagte materiaal, wat so swiep en swaai as ek loop. ‘n Rok wat verleidelik om my oordadige kurwes vou en sag oor my heupe tuimel.

Wat wyd sal uitklok as ek sou tiekiedraai.

En in dié rok gaan ek ook mý “statement” maak!

En jou “salute”!

 

Goeienag, Braam,

Rus in Vrede.

 

4 Responses to "Ciao, Kitchenboy!"

Wat ‘n lieflike eerbetoon. Pragtig Antie….

Baie mooi geskryf.
Eksentriek, ja ons kan die woordeboek oplees, maar was hy nie maar net gelukkig en gemaklik met homself nie, geweet wie en wat hy is en wat hy wil. Ek wens ek kan dit bereik voor ek gaan.

Antie Koekie,
Ek lees nou eers jou wonderlike post aan my skat! Ek is so bly hy het jou ook aangeraak met sy beauty.
Amalanka
x

Leave a Reply